Waarom dink ouers altyd dat tieners te jonk
is vir ware liefde? Jamie en Aiden het
van die begin af geweet dit is Altyd en vir Ewig.
Jamie se vriendin, Taryn, het ‘n
Oujaarsaand-partytjie by haar huis gehou, en ‘n paar vriende genooi. Jamie en Taryn is albei 15 jaar oud. By die partytjie het Jamie vir Aiden
opgemerk. Aiden is 16 jaar oud en - snaaks: elke keer as hy na haar kyk, word
haar bene lam. En toe begin hulle
gesels. En gesels. Teen die einde van die
aand vra Aiden of hy weer vir Jamie kan
sien.
Die volgende Vrydag het Jamie baie gelukkig
gevoel, want sy sou Aiden die volgende dag weer sien. Haar ma het Jamie se
goeie bui opgemerk. Haar ma vra haar
uit. Jamie besluit om haar ma van Aiden te vertel, en haar ma was baie
gelukkig.
Maar toe haar pa daarvan te hore kom, was
hy baie vies. “Jy is hopeloos te jonk om met seuns uit te gaan!” roep hy
uit. Maar in sy hart is daar ‘n
benoudheid. Hy besef dat sy dogtertjie
besig is om groot te word, en hy wil haar nie loslaat nie. “Nonsens, jy sien nie weer vir daardie seun
nie,” sê hy. Jamie storm in trane na
haar kamer toe.
Die volgende dag het sy haar ouers gevra of
sy by Taryn kan
gaan oorslaap, en hulle het haar toestemming gegee. Toe sy by Taryn aankom, het sy haar treurige
storie vertel. Maar Jamie was steeds
vasbeslote om vir Aiden te sien, en sy het vir Taryn laat belowe om nie vir
Jamie se ma of pa te vertel dat sy – Jamie – daardie middag vir Aiden sou
ontmoet nie.
Daardie Saterdagmiddag het Jamie
senuweeagtig in Canal Walk gestaan en wag vir Aiden. Toe hy opdaag, neem hy
haar na ‘n roomys-winkel, en daarna stap hulle met roomyse in die hand na
Wonderland. Daar het hulle op dansmatte
gedans en toe hulle moeg was, op die rusbank gaan sit en gesels. Hulle het gelag oor hoe hulle gedans
het. Jamie was dolgelukkig. Maar toe breek die tyd aan dat sy na Taryn se
huis moes terugkeer. Aiden het saam met
haar na Taryn se huis geloop.
Nou was die twee smoorverlief, en daarna
het hulle altyd gereël om iewers te ontmoet, sonder dat Jamie se ouers geweet
het. Maar ná twee weke besluit Jamie sy kan
nie so agter haar ouers se rug aangaan nie.
Sy móét haar gevoelens met hulle bespreek.
“Ma, pa…” begin sy die aand oor
aandete. “Ek kan nie help nie, maar ek het weer vir Aiden
gesien…”
Haar ma en pa staar verstom na haar. “Wat!”
bars haar pa uit. “Wag nou, ou man,”
tree haar ma dadelik tussenbeide. “Kom,
laat ek en jy net gou ‘n bietjie gesels,” en haar ma neem haar pa na die
slaapkamer, en los vir Jamie alleen in haar benoudheid.
Toe haar ouers ‘n rukkie later weer in die
kombuis verskyn, het haar pa ‘n bietjie meer ontspanne gelyk. “Nou maar gaaf, “sê hy, “Maar eers moet ek
die knaap ontmoet. Sê hy moet môre-aand vir aandete kom.” Die volgende dag het Jamie se ouers vir
Aiden ontmoet – en van hom gehou.
Van toe af was Jamie en Aiden gekys. Hulle
het hul verhouding baie ernstig opgeneem.
Hulle het ook besef dat hulle nie net vriende kan bly nie, en dat hulle die verhouding
verder wou neem. Mettertyd het hulle oor trou gepraat, en die kinders wat hulle
eendag wou hê.
Twintig jaar later is hulle steeds gelukkig
getroud, met twee kinders van hul eie. Hulle het ‘n seuntjie, Austin , wat tien jaar oud is, en ‘n
dogtertjie, Jackie, wat 13 is. Die gesin
is klein maar geheg en baie gelukkig.
No comments:
Post a Comment